Volg die Goeie Herder oral
Die Here is goed, en doen goed.
Die Here is getrou. As Hy iets gesê het, dan is dit waar. As Hy iets beloof het, dan sal Hy dit beslis doen, so waar as Hy leef.
As ons Hom wil behaag, dan moet ons geloof hê. Ons moet glo dat Hy bestaan, en 'n beloner is van die wat Hom soek. Ons moet Hom die eer gee, deur onvoorwaardelik te aanvaar wat Hy sê. Ons moet Hom in alles gehoorsaam wees, en in alles vertrou.
Sal daar ooit iemand wees wat opreg God soek en sy beloftes aangryp, maar dan teleurgesteld of beskaamd staan? Sal God sy Naam só oneer laat ly? Sal Hy lieg? Sal Hy ontrou wees? Sal Hy misluk?
Nee, maar Hy sal Homself verheerlik deur sy heerlike Self te wees! Hy sal Homself openbaar vir Wie Hy is. Hy openbaar nie net deur woorde nie, maar ook deur dade. Sal Hy iets sê, maar dan nie daarvolgens optree nie?? Nee! Hy is nie soos ons nie.
As Hy gesê het dat ons ons nie moet bekommer oor wat ons sal eet en wat ons sal drink nie, maar dat ons die koninkryk van God moet soek en al hierdie dinge sal vir ons bygevoeg word, omdat Hy sal sorg: Sal Hy dan nie sorg nie??
"Ja, maar daar is so baie dinge wat dit onwaarskynlik of onmoontlik laat lyk. Kyk hierdie en daardie en hierdie. Maak die somme. Dit klop nie. As die nodige middele nie daar is nie, dan is dit nie daar nie. Ek het rede om bekommerd te wees." O, kleingelowige! Wie dink jy is jy, om God tot middele te beperk ?! Wie dink jy is jy, om te sê dat God se arm te kort is?
Daar is niks wat vir Hom onmoontlik is nie. By mense is baie, baie dinge onmoontlik, maar by God is niks onmoontlik nie. Hy is God. Hy is Wie Hy is. Het Hy dan nie 'n groot volk vir veertig jaar in die woestyn onderhou nie? Kos, water, skaduwee bedags, lig snags, klere wat nie verslyt nie... Elke dag daarvan - elke dag - het Hy vir hulle gesorg. In 'n woestyn het Hy kos en water gegee vir so 'n menigte mense, omdat Hy almagtig is en ewig getrou aan sy Woord. As Hy dit gedoen het, wat presies is dit van jou omstandighede wat jou laat dink dat Hy nie gaan sorg nie?
Hy sal sorg. Want Hy sal Homself nie verloën nie.
Maar kom ons wees eerlik: Hoeveel van ons bekommernis is gaan nie eintlik oor of die Here sal sorg of nie, maar gaan eerder daaroor dat ons nie bereid is om Hom te volg waar Hy lei nie? Ons wil Hom nie die woestyn in volg nie, nee, Hy moet ons eerder by Egipte se vleispotte los, of Hy moet ons met die wolke optel en in die beloofde land gaan neersit. Niks van hierdie woestyn besigheid nie.
Ons wil sê dat ons glo dat Hy die een is wat vir ons sorg, maar ons wil nie in 'n posisie wees waar Hy die enigste Een is wat vir ons kan sorg nie.
As Hy die middele gee wat vir ons sorg, dan voel ons gerus. Maar as Hy die middele wegneem of ons deur iets lei waar ons middele nie genoegsaam sal kan wees nie, dan raak ons angstig. Laat ons ons God dank wanneer Hy ons deur die woestyn lei, want Hy wys ons op hierdie manier dat ons vertroue nie in Hom is nie, maar in aardse dinge. En Hy skep ook op hierdie manier die omstandighede waarin Hy Homself aan ons gaan openbaar as die wonderlike God wat Hy is. Was die manna en die water in die woestyn nie 'n wonderlike openbaring van 'n wonderlike God nie? Was dit nie 'n groot voorreg nie om eerstehands te kon sien en ervaar hoe dit is om op so 'n unieke manier met God te wandel?
Daar is 'n skare van gelowiges wat kan getuig van wonderlike maniere hoe die Here voorsien het in omstandighede wat onmoontlik gelyk het. En dit is altyd met 'n glimlag van bewondering, en met 'n hart vol dankbaarheid.
Moenie bang wees vir waar die Here jou mag lei nie. Waarookal Hy lei, sal Hy sorg, sal Hy jou laat groei, sal Hy Homself as Wonderlike openbaar. Maar as jy Hom net wil volg sover as wat jou middele dit gaan toelaat, sal jy in Egipte agterbly. As jy nie bereid is om heeltemal aan sy genade oorgelaat te wees nie, is jy Hom nie waardig nie, want jy glo Hom nie. Jy sê met jou kleingeloof en ongeloof dat Hy onbetroubaar is.
EN terwyl hulle op reis was, sê iemand op die pad vir Hom: Here, ek sal U volg, waar U ook mag gaan! Toe sê Jesus vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.
Sal jy Hom volg waar Hy ook mag gaan? Sal jy Hom volg deur plekke waar jy net Hom sal hê om op te vertrou? Plekke waar as Hy nie by sy Woord hou nie, jy dan in diep, diep moeilikheid gaan wees?
Van die verlostes word gesê "dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan". Hulle volg Hom oral: deur gevare, verlies, onsekerheid, skande, en baie soorte lyding. Met Jesus as hul Herder, is hulle nie bevrees nie, al lei Hy hul ook deur 'n dal van doodskaduwee. Liewe mede-gelowige, glo jy dat Hy ons deur die dal kan vat? Of kerm jy en loop angstig rond, en probeer 'n manier kry om óm die dal te gaan waar Hy lei?
Wat is veiliger: In die donker dal maar in die Herder se sorg, of buite die dal sonder Hom omdat ons Hom nie wou volg nie?
Hy is die Goeie Herder wat nie een van sy skape verlore sal laat gaan nie. Hy is 'n taak opgelê, en Hy sal beslis elke skaap veilig aan die ander kant voor die Vader stel. Deur alles en enigiets heen, maak nie saak hoe onmoontlik dit lyk nie, sal Hy elkeen behoue in die heerlikheid bring, sonder dat selfs een haar verlore gegaan het.
Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee.
Vetrou ons Hom? Vertrou ons hierdie Herder wat sy lewe vir ons gegee het? Sal Hy sy lewe gee om ons te red, net om ons dan in iets in te lei waar ons verlore sal gaan? Sy lewe is meer kosbaar as dit. Hy het dit gegee ons redding, en Hy sal sorg dat dit gebeur.
Sal ons Hom volg? Sal ons Hom glo? Sal ons styf aan Hom vasklou, en alle ander vertroues laat gaan?