Só begin ek leef
Tot diep seebodem weggeruk
waar geen lig, geen asem is
waar donkerte swaar neerdruk
waar hoop vergaan,
planne gedaan.
Só laat Hy my sterf.
Gegryp en gesleep deur die vuur
waar geen rus, verligting is
waar minuut voel soos uur
waar ek wegbrand
tot 'n niemand.
Só laat Hy my sterf.
Deursoek, genaad'loos afgesny
waarsonder ek nooit sal kán
waarmee ek my hart verbly
waarin my gees
se krag sou wees
Só laat Hy my sterf.
Met gloeiend ywer reinig Hy
waar ek nooit die moed sal hê
waar sonde in my hart bly
waar knieg nie buig
in sonde juig
Só laat Hy dan sterf
Die oue mens
wat tog so wens
wat met alle mag probeer
wat hy nooit gegun sal word:
trots en boos eie god te wees
'n Nuwe mens
met nuwe wens
met nuwe hart oorgeplant
op operasietafel
"Was af die bloed! Draai om verband!"
Saggies, teer, gedra deur Vader
by Wie geen haar verlore gaan
bring Hy my al hoe nader
aan sy mooi hart
ook soms deur smart
Só begin ek leef.