Ongeduldig op die pad

4Toe trek hulle van die berg Hor af weg op pad na die Skelfsee om die land Edom om te trek; maar die siel van die volk het op die pad ongeduldig geword. 5En die volk het teen God en teen Moses gespreek: Waarom het U ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterwe? Want daar is geen brood en geen water nie, en ons siel walg van die ellendige kos. 6Toe stuur die HERE giftige slange onder die volk wat die volk gebyt het; en baie mense uit Israel het gesterwe. 7En die volk het na Moses gekom en gesê: Ons het gesondig dat ons teen die HERE en teen u gespreek het. Bid tot die HERE, dat Hy die slange van ons wegneem. En Moses het vir die volk gebid. 8Daarop sê die HERE aan Moses: Maak vir jou ’n giftige slang en sit dit op ’n paal; dan sal elkeen wat gebyt is en daarna kyk, lewe. 9Toe het Moses ’n koperslang gemaak en dit op ’n paal gesit: en as ’n slang iemand gebyt het en hy kyk na die koperslang, het hy in die lewe gebly.
~ Númeri 21:4-9
7WEES dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit die vroeë en die laat reën ontvang het. 8Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby.
~ Jakobus 5:7-8
14Doen alles sonder murmurering en teëspraak, 15sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ’n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld,
~ Filippense 2:14-15

Die HERE was oppad met die volk na die beloofde land. Hy het vir hulle gesorg in die woestyn. Dink daaraan hoe besonders dit is dat Hy in 'n woestyn vir 'n hele volk kos, water, en beskutting gegee het! Daar was al baie kere wat hulle vantevore gekla het, asook ongehoorsaam was. Dit is hulle ongeloof wat gemaak het dat God gesweer het dat baie van hulle nie die beloofde land sou ingaan nie.

Hierdie keer was dit hulle ongeduld wat 'n probleem was. Hulle het ongeduldig geraak, en toe teen die HERE begin praat. Soos hulle later moes erken, het hulle gesondig toe hulle teen die HERE gepraat het. Want Hy is goed, en dit is 'n vreeslike lastering om van Hom te praat asof Hy sleg is - en dit net omdat dinge nie was soos wat hulle dit wou hê nie.

Daar is baie voorbeelde in Exodus en Numeri van hoe die volk gemurmureer het, teen die Here gepraat het en sodoende gelaster het. Dit is goed vir ons wanneer ons daarna kyk en biddend selfondersoek doen. Ons kan sien hoe goed die HERE vir hulle was en hoe vieslik hul murmurering is. En dan moet ons na onsself kyk, na hoe goed die HERE vir ons is, en hoe maklik ons dan kla!

Ons raak ongeduldig op die pad na die beloofde heerlike ewige lewe, en omdat dinge nie is soos wat ons wil hê dit moet wees nie, praat ons teen die Here. In plaas van dankbaarheid vir wat Hy vir ons gee en hoe Hy vir ons voorsien op die pad, kla ons daaroor en beledig Hom!

Gebed

Ag, Here, vergewe ons al die kere wat ons teen U gepraat het. Al die kere wat ons eintlik U beledig het, asof U nie goed vir ons voorsien nie, asof U ons nie dra soos 'n vader sy seun dra nie. Ons raak ongeduldig op die pad, ons harte raak swak omdat ons nie meer wil wag nie, en dan kla ons!

U is goed en goed. U is 'n beloner van die wat U soek. Niemand wat op U vertrou en op U wag, sal ooit beskaamd staan nie. Ag, Here, vergewe ons, en versterk ons harte. Laat ons U die eer gee wat U toekom, deurdat ons op U wag, en nooit toelaat dat ons harte dink dat U sleg is, of sleg vir ons is nie. Laat ook ons monde nie sleg praat van U en van die pad waarop U ons lei nie, maar laat daar eerder uit ons monde kom: lof, vertroue, en gebed om versterking.

Ons staan skuldig soos die Israeilite van ouds, en al ons kere wat ons al teen U gepraat het, maak dat ons groot straf verdien. Toe U die slange onder hulle ingestuur het, het U vir hulle redding gestuur deur die koperslang waarna hulle moes kyk. U het so ook vir ons vir Christus gegee, sodat ons na Hom kan kyk vir redding. Ons kyk na Hom, Vader, en ons pleit hierdie dinge by U in sy Naam!

Amen.