Nunu
Onder die boom, na al die jare,
sonlig glinster deur die blare.
Dit was die tyd van moerbeie rooi
Sy is swanger, en alles was mooi.
Vruggies soek ek een vir een,
vir my dogter of dalk my seun.
"Versorger," dink ek, "vir vrou en kind",
'wyl ek bessies tussen blare vind.
Huilend kyk ek na 'n video:
Sy speel klavier, haar man die cello,
Wie is jy, gaan jy dalk só wees?
My verbeelding hou behoorlik fees!
Ek loof die God deur Wie als leef,
Hy wat jou aanmekaar moet weef.
O, God wat gee, ek loof u Naam,
ek en my gesinnetjie saam.
Vriende, familie, wees saam ons bly:
As God wil, gaan ons 'n kindjie kry!
Alles was mooi, almal was bly,
Maar Hy wou iets anders ons laat kry.
Eendag skielik was daar pyn en bloed,
sonder afskeid moes ons jou groet.
Nooit geweet dit kan so swaar weeg:
my hart... dis net ... leeg.
O, God wat neem, my hart klop mank.
Stadig kwyn my lof en dank.
Suutjies loop die lewe uit,
nader kruip 'n stil verwyt.
Ek't gedink: Ons is uitgesonder
van die storms en die donder.
Toe hierdie straal ons tref,
moes ek my dwaasheid besef.
Lank moes ek hiermee worstel.
Lank was beide U en ek doodstil.
Lank moet my pyn hier binne vassit.
Lank is dit saggies, kloppend seer.
Diep is my wonde,
Dieper my verwarring.
Dieper as dit alles:
die perfektheid van God.
Soos Job is ek sonder antwoorde,
en vir lank sonder lofakkoorde.
En soos Job moet ek erken:
U alleen is God wat alles ken.
O God, U deurgrond en ken my,
U oorrompel en wen my.
Die masker ruk U van my gesig
vir myself is ek grillerig...
Kyk my vruggies, wat U het gepluk:
Ek soek nie God nie, maar geluk!
'n God wat gee dié sou ek loof,
maar God wat neem, nee, dis roof!
Die hand van God wat voorspoed gee,
behoort aan Hom wat teëspoed gee.
Hy is God, en dit is sy reg.
Wee die skepsel wat Hom noem sleg.
Die vinger wat U wou aanklaag
word 'n bakhand wat genade vraag.
my God, hoe dwaas en hoogmoedig was ek,
wil U tog my groot sonde bedek!
U Seun in my plek die straf gedra,
daarom kan ek met vrymoedigheid vra.
Ek kyk na Hom, vir my aan die kruis;
daar is u liefde finaal bewys.
Van hoorsê het ek U geken,
maar nou het ek iets groot gewen:
My hart se oë het U gesien,
'n gróót God wat ek wil dien.
God wat neem, God wat gee,
God wat trane sal afvee.
Troos my, my God, tot daardie dag
al moet ek ook soms huilend wag.