Lekker slaap

1VIR die musiekleier; met snaarinstrumente. ’n Psalm van Dawid.
2As ek roep, verhoor my, o God van my geregtigheid! In benoudheid het U vir my ruimte gemaak; wees my genadig, en hoor my gebed!
3o Manne, hoe lank sal my eer tot skande wees? Hoe lank sal julle die nietigheid liefhê, die leuen soek? Sela.
4Weet tog dat die HERE vir Hom ’n gunsgenoot afgesonder het; die HERE hoor as ek Hom aanroep.
5Sidder, en moenie sondig nie; spreek in julle hart op julle bed, en wees stil. Sela.
6Offer offerandes van geregtigheid en vertrou op die HERE.
7Baie sê: Wie sal ons die goeie laat sien? Verhef oor ons die lig van u aangesig, o HERE!
8Groter vreugde het U in my hart gegee as wanneer hulle koring en hulle mos oorvloedig is.
9Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak; want U, o HERE, alleen laat my in veiligheid woon.
~ Psalm 4:1-9

Daar is so baie stemme wat in ‘n mens se kop maal wat vrees aanblaas en wat ‘n mens jou laat bekommer oor baie dinge. Gereeld is dit sommer jou eie stem wat heeltyd vrees aanblaas.

Soos wat ons gereedmaak om te gaan slaap, laat ons dinge met die Here uitstoei. Laat ons onsself herinner aan sy getrouheid en goedheid. Laat ons sy groot liefde vir ons onthou, soos wat ons duidelik sien in die feit dat Hy sy eie Seun vir ons gegee het. Laat ons onthou dat niks ons sal kan skei van sy liefde nie.

En mag die Here dan gee dat ons soos vers nege kan maak:
9Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak; want U, o HERE, alleen laat my in veiligheid woon.

Kom ons bid saam:
Here, ons God. U is goed en groot. Ons harte vind rus en vrede in U. Gee ons vanaand ‘n rustige nagrus, sonder bekommernis. Gee dat ons elke dag ons bekommernis en vrese voor U sal neerlê. Ons bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.