Klaend voor die oopgemaakte deur
Maak my rein, my Heer!
Dís wat my hart begeer.
'n Nuwe hart, deur U gesmee,
'n nuwe wil, deur U gegee,
bring dié bede voor U.
U te ken, o Heer,
om meer van U te leer,
toenemend meer soos U te word,
om niks aan my geloof te kort:
aan hiérdie deur klop ek.
Dit wat myne is,
wat aan die verdwyn is,
ek ruil dit haas vir eew'ge skat,
sou dit my hinder op die pad
waarop U daagliks lei.
Ja, al brand u loog
my kosb're hand of oog.
Al brand dit diep hier in my hart,
verwyder tog die weg van smart!
Heer, wat dit ook mag kos.
U het opgewaak,
die deur my oop te maak.
Hoe gou is ek nou om te kla,
my duisende vrae U te vra,
te wonder waar U is...
Van opstandigheid
na laag in need'righeid.
'n Bitter pil moes my keel sluk:
In tróúheid het U my verdruk,
in liefde my laat ly.
Oë wat huilend bly,
wat U blik wil vermy:
Wil hul met u vingers afdroog,
met moedigende stem verhoog,
en vas weer rig op U.
Laat my op U wag.
Heer, gee dat hierdie slag
ek my gebede sal onthou
en u antwoord sien: híér, nóú.
Geklop, en oopgemaak!
Kreun ek dan bedags,
en huil ek in die nag,
laat, Heer, my hart U nooit verwyt,
my mond nooit iets slegs oor U uit.
Versterk my met geloof!